Saterdag Koffiekuier saam met... Leandra Naudé


Ek wil julle waarsku. As ‘n skrywer met ‘n ander skrywer gesels, veral oor boeke, kan dit ‘n lang storie raak. Baie koffies en koek, al is dit nou virtueel! Maar ja, vandag kuier ek heerlik saam met Leandra Naude, ‘n romanskrywer van Pretoria. Ek het Leandra in 2019 ontmoet by die Romance Writers Organization of South Africa (ROSA) se konferensie in Johannesburg. Leandra het daardie jaar die Imbali-toekenning gewen vir haar debuutroman, Reis deur die Hart.
Ons gesels nog gereeld in ROSA se Afrikaanse- en Pretoria se skrywersgroepe. COVID en die afstand wat ons nou van mekaar af bly, het dus ‘n virtuele kuier genoodsaak. Nie dat ons minder praat het nie!
Dus, laat ek sommer begin met al die vrae wat Die Boekblog vir Leandra wou vra. Kom ons begin met jou skryfwerk. Wat het jou geïnspireer om te skryf?
Ek was nog altyd mal oor lees en het van kleins af gedroom om ’n boek te skryf. Ek het toe al aan ‘n boek begin werk. Dis egter eers nadat ek moes ophou werk, was dit ’n manier vir my om te kan deal met alles wat in my lewe gebeur het.
En hoe lank skryf jy nou al?
Aktief omtrent so tien jaar.
Jy het genoem dat skryf vir jou ‘n manier was om alles te verwerk wat met jou gebeur het. Gee jy om om die lesers te vertel wat dit was, en wat uiteindelik die rede was hoekom jy begin skryf het?
Ek het begin skryf nadat ek met Lupus gediagnoseer is en nie meer ’n maatskaplike werker kon wees nie.
Watter advies sal jy ‘n nuwe skrywer gee wat nou net begin?
Lees soveel boeke as moontlik, doen ’n ordentlike kursus in skryftegnieke en raak opgewonde oor wat jy skryf.
Al ons skrywers sukkel soms met skrywersblok. As dit met jou gebeur, hoe hanteer jy dit?
Soms is skrywersblok my manier om te dink oor my karakters. Gewoonlik wanneer ek vashaak, dan was daar iets groots fout met die vloei van my boek, karakters of plot. So, nou probeer ek rustig daaroor te raak en wanneer dit vloei soveel as moontlik te skryf.
Wat, volgens jou, is die belangrikste element van goeie skryfwerk?
Jou skryfstem is uniek en dit is essensieel om dit te ontdek. Dit dra by tot jou authenticity as skrywer.
Ek is nuuskierig. Wat kom eerste, die storielyn of die karakters?
Defintief die karakters.
Gebruik jy ‘n spesifieke metode om die storielyn en karakters te ontwikkel?
Sodra ek sterk karakters het, weet ek hulle kan enigiets hanteer en groei die storielyn saam met my karakters.
Hoe kies jy die titel van jou boek?
Dit kan ek eers aan die einde van die boek doen wanneer die temas duidelik word.
Wanneer het jy jouself begin sien as ‘n skrywer?
Ek het vir Chanette Paul tydens ’n boekbekendstelling gevra en besef dat dit iets is wat jy in jouself moet raaksien, hetsy jy gepubliseer het of nie. Iewers gedurende die afgelope tien jaar het dit vir my natuurlik geword om aan myself te begin dink as skrywer. Soms wonder ek steeds...

Hoe lyk jy skryfspasie
Of in my bed, of buite in my wyntuin, in ’n restourant, of buite by ons vuurmaakplek.
Jy het op 4 Desember 2021 jou tweede boek, Reis deur Klatergoud bekend gestel. Wat het jou geïnspireer om dit te skryf?
Ek het baie lank gewag om terugvoer te kry na Reis deur die Hart en het gevoel dat my karakters nog ’n storie het om te vertel. Ek het sommer begin skryf en skryf om dit uit my gedagtes te kry en toe ontwikkel dit in ‘n boek.
Het jy enige navorsing vir hierdie boek gedoen en as jy het, wat het dit behels?
My doktersvriendin oor alles medies in die boek en ’n kaptein in die polisie oor daardie aspekte. Ek het ook heelwat dokumente op die internet bestudeer oor trusts en geldwassery.
Hoe lank het dit jou geneem om die boek te skryf?
Die hele proses was bykans vier jaar.
Is daar enige geheime oor die boek wat nie in die blurb is nie, wat jy met die lesers kan deel?
Dat liefde en verhoudings nie eindig by die eerste boek se einde nie.
Wat is die hooftema van die boek?
Dat verhoudings kan verander indien mense bereid is om te groei en dat geld en goed nie noodwendig lei na geluk nie.

Hoe het jy op die titel besluit en is daar enige betekenis daaraan?
Klatergoud is vals goud, wat blink, maar geen waarde het nie. Deurgaans in die boek word Arriana blootgestel aan geld en materiële dinge, waarteen sy rebelleer en interessante konflik meebring juis omdat Finn ’n trjiljoenêr is.
Hoe het jy op die voorblad besluit?
My man het dit ontwerp en ek het help kies aan die foto.
Wat is die toekoms van jou karakters? Is daar ‘n opvolg?
Daar is definitef ’n opvolg. Daar is drie boeke in die Reis-reeks en dalk sal hulle nog ‘n cameo verskyning maak in opvolgende boeke.
Wat was die moeilikste deel vir jou om hierdie boek te skryf?
Om die eerste keer te hoor dat dit nie goed genoeg was vir publikasie nie en myself bymekaar te skraap om aan te hou skryf.
Werk jy aan iets anders op die oomblik?
Die redigering van Boek 3. En die karakterontwikkeling van Boek 4.
Hoeveel storielyne wag daar om nog ontwikkel te word?
Daar is ’n karakter in die derde boek wat interessant genoeg is om my volgende storie (Boek 4) op te baseer.
Is daar enigiets waarop jy hierdie jaar wil fokus?
Om my derde boek te publiseer, navorsing te doen vir my vierde boek en dit te begin skryf.
Watter deel van die dag is die beste vir jou om te skryf?
Laatmiddag wanneer ek moet begin kosmaak ....
Dis waar. Dit gebeur mos gewoonlik wanneer mens juis nie kan skryf nie. Maar hoe sou jy jou skryfroetine (dag) beskryf?
Ek is die Admin persoon by my man se werk, wat halfdag is, maar sonder spesifieke ure. So tussendeur probeer ek skryf en kinders heen en weer rondry en my energie vlakke te bestuur.
Wat is die moeilikste deel van skryf vir jou?
Die wag en wag en wag vir terugvoering.
Het jy enige vreemde/snaakse rituele as ‘n skrywer?
Nee, maar ek raak nogal baie vreemd/snaaks wanneer ek aan die skryf raak. Ek is al snaaks in ‘n winkel aangekyk omdat ek met my karakters begin gesels het.
Hoe doen jy navorsing vir jou boeke?
Ek gaan drink koffie saam met vriendinne wat eksperts is in sekere velde en hulle weet my betaling is koffie en dalk koek. Ek Google so nou en dan as ek nie ‘n spesifieke ekspert ken nie, maar dan maak ek seker om soveel moontlik bronne te kry om te verseker dat dit akkuraat en omvattend is.
Is skryf jou voltydse beroep?
Nee. In my kop dalk, maar nie fisies nie.
Hoe kry jy jouself gereed om ‘n emosiele toneel soos ‘n sekstoneel, hartseer, ens, te skryf?
Ek dink eers baie diep daaroor en dan skryf ek, en herskryf, en herskryf ...
Hoe ontspan jy weg van jou skryfwerk?
Wanneer my kop in die “zone” is, dan is dit onmoontlik. Skryf is meestal ook vir my ontspanning van die admin en ander lewens verpligtinge.
Hoe hanteer jy kritiek?
Dit hang af of dit kritiek is wat my kan opbou of wat die doel het om my af te breek. Ek raak vir ’n ruk stil, kry weer positiewe terugvoer van my man en raak dan rustig daaroor.
Indien jy ‘n reeks skryf, hoe hou jy dinge vars vir jouself en jou lesers?
Warm sekstonele, intense konflik waardeur my karakters moet werk en verdere groei in my karakters en baie humor.
Is dit moeiliker vir jou om die eerste of die daaropvolgende boeke in ‘n reeks te skryf?
Hierdie is my eerste reeks en ek het baie gesukkel met die tweede boek, terwyl die derde een vanself gevloei het. Vra my dalk na die volgende reeks...
Wat is jou gunsteling, en nie so gunsteling deel van jou loopbaan as ‘n skrywer tot dusver?
Die gewag is die ergste, maar om jou boek vir die eerste keer vas te hou is by verre die ongelooflikste gevoel.
Hoeveel boeke het jy al geskryf en watter is jou gunsteling?
Drie boeke en die derde boek (wat nog publiseer moet word) is my gunsteling.
Wat verras jou die meeste wanneer jy jou boeke skryf?
Hoe die storie vloei sonder dat ek by is.
Wie is jou gunsteling karakter van die wat jy al geskryf het en hoekom?
Arriana is vir seker my gunsteling karakter. Sy is in ’n mate baie soos ek, maar het my inspireer met haar gutspa en gehelp om deur moeilike tye van my lewe te werk.
Hoekom het jy besluit om in jou genre te skryf en wat het jou aangetrek tot die genre
Ek hou van romanse, maar ook spanning, so dit is lekker om beide te kan doen.
Wat is die moeilikste deel van skryf vir jou?
Die redigering wat aanhou en aanhou en aanhou.
Wat kan ons volgende van jou verwag?
Die derde boek in die Reis-reeks word Augustus vrygestel en ’n karakter in die derde boek is perfek vir ’n ander karakter, wat al vir jare in my kop leef, vir boek vier.
Wat is jou ambisies as ‘n skrywer?
Om myself te bly en deurgaans authentic te wees. Om te skryf wat ek weet ek moet en nie volgens iemand se voorskrifte nie. Om altyd te glimlag as ek ’n oulike deel skryf.

Ons het nou so lekker gesels oor jou skryfwerk en jou boeke, en daar is seker nog heelwat vrae wat ek kan vra, maar jy weet mos hoe is ons skrywers. Ons is lekker nuuskerig! Wie is jou gunsteling skrywers en hoekom?
Dit wissel tussen Nora Roberts, Martin Cruz Smith, Stephen King, Eleonor Baker en Sophia Kapp.
Wat lees jy nou?
Tatiana van Martin Cruz Smith (vir die 2de keer!).
Watter boek is tans op jou bedkassie?
Tatiana van Martin Cruz Smith, die Bybel en Stephen King se ‘On writing”.
Watter boeke of ander skrywers het jou eie skryfwerk die meeste beïnvloed?
Martin Cruz Smith en Eleonor Baker.
Het jy ‘n biblioteekkaartjie?
Ja, absoluut en ek is vir ’n verandering sonder skuld vir boeke wat laat ingegee word.
Gunsteling boek as kind?
Rosita en die swart rapier.
Hoeveel boekrakke is in jou huis?
Nie genoeg nie.
Hou jy van oudioboeke?
Net as ek ver alleen moet bestuur.
As jy middagete sou kon geniet met jou gunstelingskrywers, wie sou dit wees?
Ek dink Stephen King, Nora Roberts en Eleonor Baker.
Hoekom het jy besluit om self te publiseer?
Die stories wat ek wil skryf pas nie in by die behoeftes van uitgewers nie en ek wil nie volgens resepte skryf nie.

Ek weet dis nou bietjie meer persoonlik, maar hoe was jy op skool?
’n Introvertiese ekstrovert? Of dalk ’n ekstrovertiese introvert?
Wat was jou gunsteling vak of vakke?
Afrikaans.
As jy enige plek in die wêreld (of buitenste ruimte) kon gaan, waarheen sou jy gaan en hoekom?
Ierland. Ek het ’n vreemde verbintenis met Ierland (waar ek nog nooit was nie) en wil dit bittergraag eksploreer.
Wat is jou gunsteling bestemming en hoekom?
Definitief Istanboel. Dit is die een plek waar ek dadelik tuis gevoel het en weet steeds nie hoekom nie.
Wat is jou beste deel van die dag?
Wanneer ek kan begin koffie drink. En wanneer ek kan begin wyn drink
Wat wou jy graag gewees het toe jy jonk/klein was?
’n Sirkusmeisie. Toe ’n juffrou vir Down Sindroom kinders en later ’n Dokter.
Wat is jou gunsteling kos?
Macaroni en kaas.
Was jy ooit deel van ‘n sportspan?
Ja, hokkie.
Deel iets wat die lesers nie van jou af weet nie
Ek skryf liedjies (of altans het).
Gebruik slegs drie woorde om jouself te beskryf
Deursettingsvermoë, opreg en passievol.

Nou het ons al daardie lang vrae en baie inligting agter die rug en kan dus bietjie pret hê. Antwoord vinnig, sonder om te lank te dink:
Kleur - Blou
Seisoen - Lente
Blom – Roos/daisy
Parfuum – ’n Botteltjie op my spieëlkas. Nie seker van die naam nie.
Liedjie – Lime and the coconut (niemand in die huis verstaan die nie)
KIES EEN. OF DIT OF DAT?
Koffie of tee? Koffie
Warm of koud? So ’n gerieflike temperatuur in die middel.
Fliek of lees? Lees
Oggend- of aand? Die tyd van die dag wanneer dit te laat is vir koffie en betyds is vir wyn. Ook die tyd van die dag wat ek makliker kan skryf.
Stort of bad? Stort vir praktiese doeleindes
Stad of platteland - Platteland
See of woud of berge? See
Uur vroeg of twintig minute laat? Ek is altyd laat, maar probeer dit onder vyf minute te hou.
Sosiale media of boek? Boek
Hardeband, sagteband of eboek? Ja 😊
Leandra Naudé het grootgeword in Utrecht, Noord-Natal en het haar skoolloopbaan in 1993 voltooi. Sy het nog altyd die passie gehad om ’n verskil in die wêreld te maak en het Maatskaplike werk by die Universiteit van Pretoria studeer. Hier het sy ook haar man, Paul, ontmoet. Sy het later haar Meestersgraad voltooi en het elke werk wat sy gehad het, met oormaat energie en passie aangepak. Twee dogters is vir Paul en Leandra gebore, wat tans uiters aktiewe en pragtige jong tieners is, en hulle lewe verryk en baaaaie interessant maak.
Leandra het haarself die “postergirl van uitbranding” gedoop as gevolg van die verskeie kere wat sy uitgebrand het. Sy is in 2011 met Sistemiese Lupus gediagnoseer en moes ophou werk as gevolg van die siekte. Gedurende hierdie baie moeilike tyd het die liefde en ondersteuning van haar man en meisies, asook die boeke wat sy verorber het, haar deur hierdie moeilike tyd getrek. Juis daarom het sy besluit om ‘n boek aan te pak.
Die eerste boek, Reis deur die hart, was haar eie persoonlike reis om haarself as mens en as skrywer te ontdek. Haar karakters het soveel aanklank daarby gevind dat hulle helaas nie wil ophou reis nie. Tans skryf hulle nuwe reise saam.
Volg Leandra gerus:

Alles lyk presies dieselfde, tot op die laaste skildery, so asof tyd stilgestaan het en Arriana steeds ‘n kind in die huis is. Selfs die magtelose gevoel wat sy soms as kind ervaar het, is deur die mure ingesuig en dreig om soos rook te ontsnap en haar te infiltreer as sy lank genoeg stilstaan.
Arriana was nog nooit so gelukkig in haar lewe nie. Sy is saam met die liefde van haar lewe, Finn O’Reilly en het die Kersfees saam met sy groot familie in Ierland spandeer. Die O’Reillys het haar dadelik as ’n suster en ’n dogter aanvaar en vir die eerste keer voel sy die geborgenheid en onvoorwaardelike liefde wat sy nooit in haar ouerhuis ervaar het nie. Totdat ’n tragedie haar en Finn dwing om hulle vakansieplanne te laat vaar en na Suid-Afrika te vlieg. Hier word sy gekonfronteer met die spoke van haar verlede en een vir een tuimel die geraamtes uit die kas. Is dit toevallig dat albei haar ouers in die hospitaal is? Hoekom loop haar eks se nuwe vrou, ‘Kugel-Barbie’, rond asof Arriana se ouerhuis aan haar behoort? Was haar eksman nog altyd so ’n swakkeling en eejit? En hoekom vibreer haar spidey sense as Giacomo Giovetti in die omgewing is?
Terwyl Arriana met die moeilikste uitdagings van haar lewe worstel, is Finn daar om te ondersteun. Maar gaan Finn altyd daar wees? Gaan al sy geheime en die besluite wat hy in die verlede geneem het, hom verhoed om vir haar te gee wat sy regtig nodig het?
Reis deur Klatergoud, Boek Twee van die Reis-reeks, verken net hóé interessant verhoudings kan raak nadat twee uiteenlopende karakters bymekaar kom en hulle lewens saam begin.
#afrikaans #afrikaansefiksie #liefdesverhale #romanse #amazon #selfpublikasie #boekblog #afrikaanseboeke #eboeke #leandranaude #rosa #dieboekblog #boekblog




Comments