Kuier saam met Adele Gill

Skrywers kort blootstelling, en as jy 'n nuwe skrywer is, waar begin jy?
Die Boekblog hoop om met hierdie nuwe reeks onderhoude jul bloot te stel aan nuwe skrywers in Afrikaans.

Vandag kuier ek saam met Adele Gill, 'n nuwe skryfster met twee fiksie- en een kinderboek op haar naam. Maar ek gaan julle nie meer vertel nie, so kom ons val sommer met die deur in die huis, en vra vir Adele al die vrae waaroor ons so nuuskierig is.
Wat het jou geïnspireer om te skryf?
Sedert ek ‘n kind was, het ek ‘n liefde vir boeke gehad. Ons het in ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap groot geword. My ma kon nie ‘n Videomasjien bekostig nie en was die biblioteek die enigste vorm van vermaak wat ek gehad het. Ek wou nog altyd geskryf het, maar eers in 2021 daarmee begin.
Al ons skrywers sukkel somtyds om aan die werk te spring. Hoe hanteer jy skrywersblok?
Ek moet gereeld skuif na ‘n nuwe vertrek om my skrywersblok te oorbrug. Ek geniet dit om ‘n film te kyk wat handel oor dieselfde onderwerp as waaroor ek skryf.
Wat, volgens jou, is die belangrikste element van goeie skryfwerk?
Dat die boek die lesers op hulle tone hou en die einde van ‘n boek ‘n goeie indruk maak op die leser.
Watter deel van die dag is die beste vir jou om te skryf?
Aangesien ek ‘n ma van drie kinders is, skryf ek gedurende die dag as hulle by die skool is.
Party skrywers hou van stilte en ander kan soos JK Rowling in 'n koffiewinkel skryf. Wat verkies jy?
Ek moet in ‘n rustige atmosfeer kan skryf met sagte musiek in die agtergrond.
Kom ons gesels bietjie meer oor jou boeke. Hoeveel het jy al geskryf en watter is jou gunsteling?
Ek het al een kinderboek en twee kortverhale geskryf. My boek, “Die Uitweg” is my gunsteling aangesien dit ‘n interessante draai maak op die einde.
Wat is jou ambisies as ‘n skrywer?
Om die lesers te kry om verder aan my boek te wil lees. My ambisie is om mense te laat ontsnap vir ‘n wyle.

Watter boek het jy die meeste geniet om te skryf?
My kinderboek, Lalie Lepel aangesien dit die genre is waarin ek floreer. Die rede waarom ek nie nog kinderboeke publiseer nie, is as gevolg van die kostes daaraan verbonde.
En wat is die titel van jou jongste boek?
Desember in die Kalahari
Dis 'n interessante titel. Wat het jou geïnspireer om dit te skryf?
Ek het groot geword in die Kalahari. Aangesien ek nie meer in daardie area woon nie, mis ek gereeld die stilte van die plattelandse dorpies. Ek het ook my eie ervaring van jong liefde gebruik as inspirasie om dit te skryf.
Kom ons kyk bietjie na jou skryfproses. Ek is seker lesers is nuuskierig. Hoe lank het dit jou geneem om Desember in die Kalahari te skryf?
Ek het ‘n maand en ‘n half aan hierdie kortverhaal geskryf. Aangesien ek nie baie tyd kry om te skryf nie, neem dit my langer om my boeke te voltooi.
Ek is seker daar is baie ander skrywers wat met jou kan vereenselwig. Jy is beslis nie alleen nie.
Jy het vroeër genoem dat jy na musiek luister as jy skryf. Is daar enige musiek wat jou jongste boek geïnspireer het?
Ek luister verseker na musiek as ek skryf. Daar is altyd ‘n vooraf opgestelde snitlys waarna ek luister. Country musiek sowel as Afrikaanse liefdes liedjies het my inspireer.
En wat beplan jy vir die toekoms. Werk jy aan iets anders?
Ek is besig met ‘n Christelike fiksie boek. Dit is ‘n projek baie na aan my hart.
Behalwe jou skrywerk, is daar enigiets waarop jy hierdie jaar wil fokus?
Ek beplan om ‘n self-redigering kursus aan te pak. Ek wil werk aan my skryf vermoë om vir die leser ‘n beter ervaring te kan gee.
'n Bietjie meer persoonlike vrae, wat ek glo die lesers sal wil weet. Kom ons begin met wat jy nou lees?
Huis van Gruwels
Watter boek is tans op jou bedkassie?
Die Bybel
Gunsteling boek as kind?
Willie soen nie. Dit is ‘n boek geskryf deur Tomi Ungerer wat oorvertaal is in Afrikaans.
As jy middagete sou kon geniet met jou gunstelingskrywers, wie sou dit wees?
Maretha Maartens.
Hoekom het jy besluit om self te publiseer?
Aangesien ek kortverhale geskryf het, het die groot uitgewers dit afgekeur. Ek het toe besluit om dit self te publiseer en op Amazon, Kindle te laai. Ek beplan wel dat my volgende boek meer as 40 000 woorde beloop. Ek sal dan weer poog om dit na ‘n uitgewer te stuur.
Wat was jou gunsteling vakke op skool?
Destyds was daar nog kunsklasse sowel as sangklasse aangebied. Sangklas was my gunsteling aangesien ek ‘n liefde daarvoor gekweek het.

Wat wou jy graag gewees het toe jy jonk/klein was?
Ek wou graag ‘n sangeres geword het, maar my vrees om voor ‘n groep mense te sing het my passie daarvoor gedemp.
As jy enige plek in die wêreld (of buitenste ruimte) kon gaan, waarheen sou jy gaan en hoekom?
Ek sou onmiddellik in my voertuig klim en ry na Walvisbaai in Namibië. Ek is daar gebore en mis die reuk van die weskus op ‘n gereelde basis.

Nou het ons al daardie lang vrae en baie inligting agter die rug en kan dus bietjie pret hê. Antwoord vinnig, sonder om te lank te dink:
Kleur - Rooi
Seisoen - Somer
Blom - Roos
Parfuum – Brown Orchid
Liedjie - Tans is my gunsteling liedjie "O Kind” van Bernice West
KIES EEN. OF DIT OF DAT?
Koffie of tee? Koffie
Warm of koud? Warm
Fliek of lees? Fliek
Oggend- of aand? Oggend
Stort of bad? Stort
Stad of platteland - Platteland
See of woud of berge? See
Uur vroeg of twintig minute laat? Uur vroeg
Sosiale media of boek? Boek
Hardeband, sagteband of eboek? Hardeband of sagteband
Adele Gill (geb. Van Vuuren) is gebore in Walvisbaai en het in 1994 na Suid-Afrika verhuis. Sy het groot geword in Keimoes sowel as Upington. Na skool het sy verhuis na Kimberley en van daar na Middelburg, Mpumalanga . Sy is toe weer terug na haar tuisdorp waar sy haar man ontmoet het. Hulle het albei besluit om te verhuis na Secunda, Mpumalanga. Na skool het sy ‘n N6 Diploma in Persoonlike Assistent verwerf en het daarna jare vir verskeie prokureurs as Persoonlike Assistent en tikster gewerk. Sy is ‘n ma van drie pragtige kinders en skryf op haar vrye tyd. Haar liefde vir skryf sal nooit opdroog nie.
Volg Leandra gerus:

Marlene is ‘n vyftig-jarige weduwee. Sy besluit om te verhuis vanaf Johannesburg na haar tuisdorp. Met haar woonstel langs die rivier, is sy in die sewende hemel. By tye dink sy terug aan haar tienerjare op die plaas. Sy ontdek ‘n tyd kapsule onder ‘n hoop koerante. Min het sy geweet dat dit eintlik ‘n pandora boks is. Sy was so seergemaak toe sy heelwat jonger was en het gesukkel om iemand weer te vertrou.
Toe ontmoet sy vir Karel. Die branderplankryer met sy blonde hare en blou oë. Sy ‘n plaasmeisie. Sal sy hom ooit weer sien? Het sy na soveel jare haar kans verbeur? Hierdie is ‘n verhaal oor verlore liefde in die ou Kalahari.
#afrikaans #afrikaansefiksie #liefdesverhale #romanse #amazon #selfpublikasie #boekblog #afrikaanseboeke #eboeke #adelegill #dieboekblog #boekblog






Comments