Hoe skryf mens resensies?

Ek is seker julle het al op skrywers se sosiale media gesien dat hulle lesers vra om ‘n resensie oor hul boeke te plaas, of dan net dit ‘n ster-toekenning te gee. Hoekom? Is dit omdat dit hul ego’s streel? Dit ook, maar daar steek soveel meer agter die versoek vir resensies en dis waaroor ek vandag wil gesels.
Ek kan vir jou lang verduidelikings gee oor hoe dit byvoorbeeld Amazon se algoritmes beïnvloed, maar ek maak nog steeds self nie hond haaraf met daardie verduidelikings nie, en as ek gaan probeer doen gaan ek net my naam met ‘n plank slaan. Kom ons bly dus by die basiese.
Waarom ‘n resensie plaas?
Sien dit so: jy doen ander lesers ‘n guns. Jy gee hulle die geleentheid om daardie boek te vind wat hulle graag wil lees, selfs nog voor hulle die eerste bladsy gelees het. Dit is dus belangrik nie net om die resensie te plaas nie, maar ook hoe jy die resensie bewoord en die ster-toekenning wat jy dit gee. (Ek sal hierby ook kom!)
Boeke met heelwat resensies kry groter sigbaarheid en het dus groter kans om deur lesers gevind te word. Sommige webblaaie trek boeke voor wat meer resensies het en wys dit aan lesers en kopers, meer so as in die geval met boeke wat min of geen resensies of ster-toekennings het nie. Dis amper soos die dogtertjie wat altyd die goue sterretjie aan die einde van die dag op haar voorkop kry. En al is sy soet en slim, sal die ander kinders gou-gou sê sy word voorgetrek. Nou, net so is dit met boeke. Daardie baie sterretjies maak dat hulle voorgetrek word. Skrywers hou baie daarvan!
In kort, boekresensies kan nuwe deure vir skrywers oopmaak en hul geleenthede gee tot ‘n wyer leserskring. Ek is nou nie seker hoe dit werk in Afrikaans nie, maar ek weet in Engels kyk boekklubs, bloggers, boekwinkels en so meer, na die aantal resensies wat ‘n boek kry voordat hulle dit aanskaf of bemark.
Die mens is mos maar snaaks. As ‘n boek baie resensies kry, lyk dit mos asof die boek gewild is en dan raak mens mos maar nuuskierig en wil hulle die boek self lees. En hoe meer mense lees, hoe gewilder raak die boek.
Vir ‘n skrywer help dit ook om te verstaan waarvan die lesers hou of nie en hulle kan dit of regstel, of in die toekoms daarop verbeter. Dis ongelooflik waardevol vir ‘n skrywer om terugvoering te kry oor hul skryfwerk en ek dink nie lesers besef dit altyd nie.
Maar... Daar is mos altyd ‘n maar. Nie almal hou van resensies skryf nie. Ek hou van resensies kry, maar ek is maar swak daarmee om dit self te skryf. Ek het myself belowe dat ek hierdie jaar harder gaan probeer. Regtig. Maar hoe? Waar begin jy?
Ek sê nie mens moet ellelange essays skryf nie. Jy hoef regtig nou ook nie die hele storie oor te vertel nie want skrywers het ‘n kleintjie dood daaraan. So, wat sit jy in ‘n resensie? Hoe bewoord jy dit?
Hoe skryf mens ‘n resensie?
Begin deur in ‘n paar sinne te beskryf waaroor die boek gaan. Moet nie die storie vir ander bederf deur te veel weg te gee van die storie of iets wat die storielyn beïnvloed nie. ‘n Algemene reël: probeer om nie enigiets weg te gee wat van die middel van die storie tot die einde gebeur nie.
As die boek deel van ‘n reeks is, is dit ‘n idee om dit te noem, en of jy dink die leser moet die ander boeke in die reeks eers lees voor hulle hierdie een lees sodat hulle dit meer kan geniet.
Dink byvoorbeeld aan die volgende wanneer jy jou resensie skryf:
· Wat het jy die meeste van die boek gehou?
· Wie was jou gunsteling karakter en hoekom?
· Het die karakters vir jou gevoel soos regte mense?
· Het die storie jou laat gis oor wat kan gebeur?
· Watter deel was jou gunsteling deel van die boek en hoekom?
· Is daar sekere tonele wat vir jou byvoorbeeld baie goed geskryf is – soos hartseer tonele, spanningstonele, sekstonele, ens.
· Het die boek jou laat lag of huil?
· Het die storie jou geboei en gemaak dat jy moes klaar lees?
Negatiewe resensies
Wat het jy nie van die boek gehou nie? Alhoewel, as jy ‘n resensie vir ‘n skrywer lewer, sou ek hierdie deel baie sagkens hanteer, alhoewel daar tog goedjies is wat jy kan noem. ‘n Professionele blogger het genoem dat dit beter is om die negatiewe uit te hou. As jy nie iets positief kan sê nie, bly eerder net by die basiese. Maar, as jy wel negatiewe kommentaar wil inbring, dui aan hoekom die boek nie vir jou gewerk het nie:
· Wens jy die boek het nie op ‘n spanningsnoot geëindig nie – iets wat jy dalk frustrerend vind?
· Het jy dit moeilik gevind om aanklank te vind by ‘n hoofkarakter en hoekom?
· Het die storie jou beangs gemaak, of het dit op ‘n tema gefokus waarvan jy nie gehou het nie?
Rond jou resensie af
Som jou gedagtes oor die boek op deur voor te stel watter lesers aanklank sal vind by die boek en vir wie jy dit sou aanbeveel. Byvoorbeeld: jong lesers, YA (tieners), ouer lesers, mense wat hou van liefdesverhale, spanningsverhale, drama, speurverhale, komedie, ligte aanslag, ensovoorts. Is daar enige ander boeke of reekse waarmee jy dit sal vergelyk?
Hoe werk ster-toekennings?
Jy kan dalk jou eie ster-toekennings vir die boek gee. Onthou net, die ster-toekennings werk oor die algemeen dieselfde en dis beter om by die gebruik van ster-toekennings te hou en nie jou eie metodes te volg nie. Amazon, asook die meeste platforms, gee jou byvoorbeeld die geleentheid om ‘n toekenning te gee tussen een ster en vyf sterre.
Moet jy vyf sterre gee? Nee, glad nie! Vir ‘n skrywer is ‘n 3- of 4-ster toekenning net so waardevol as ‘n 5-ster. (Ons hou net nie baie van die 1-ster nie.) Om dit die maklikste te verduidelik, gebruik die volgende as ‘n maklike riglyn:
⭐ Het nie daarvan gehou nie
⭐⭐ Dit was okei
⭐⭐ ⭐ Het daarvan gehou
⭐⭐ ⭐⭐ Het baie daarvan gehou
⭐⭐ ⭐⭐ ⭐ Dit was fantasties
Indien jy meer wil weet, lees gerus die blog: https://readingbookslikeaboss.com/review-rating-scale/
Vrae in meer detail wat jy jouself kan vra wanneer jy ‘n resensie skryf:
1. Vir wie skryf jy die resensie? Wie gaan dit lees? Wat sou hulle van die boek wil weet voor hulle dit koop?
Bv: hierdie is ‘n liefdesverhaal of ‘n spanningsverhaal, ens.
2. Vir watter lesers skryf die skrywer voor?
Plaas jouself in die perspektief van die beoogde lesersgroep, al is jy nie deel van daardie groep nie. Byvoorbeeld, jy kry ‘n jeugboek wat jy wil resenseer. Dan gaan jy moet noem dit is jeugliteratuur, of dis ‘n romantiese fiksie.
3. In watter genres val die storie?
Definieer die primêre genre, en vind dan ander subgenres wat dalk nie op die oog af opvallend is nie. Byvoorbeeld, ‘n liefdesverhaal met ‘n gelukkige einde of ‘n liefdesverhaal met ‘n spanningselement, ens.
4. Het jy soms deurmekaar gevoel terwyl jy die storie gelees het?
Was die storielyn deurmekaar, maak ‘n nota daarvan. As jy dalk nie iets verstaan nie, gaan ander lesers dalk ook sukkel. Is daar dalk te veel name wat dieselfde klink? Is die tydslyn vir jou verwarrend? Is daar iets wat nie aangeraak is nie – byvoorbeeld, ‘n storielyn wat jy eintlik nog van sou wou weet?
5. Het jy van die karakters gehou?
As die karakters jou nie aangetrek het en jou geboei gehou het nie, dan gaan die storie plat lees. As jy dit agter gekom het, noem dit in jou resensie (Meestal met fiksie en memoirs).
6. Was die storielyn boeiend?
As die storie darem ‘n bietjie dik vir ‘n daalder is, gaan die lesers dit nie glo nie. Kan dit regtig gebeur (moet nie hier fantasie en spekulatiewe fiksie soos wetenskapfiksie insluit nie). Kan dit regtig met gewone mense gebeur – al is hulle prinse of miljoenêrs? As jy verveeld geraak het met die storielyn, gaan ander lesers dalk ook.
7. Was die dialoog geloofwaardig?
Klink dit na ‘n normale gesprek tussen twee mense of is dit bietjie styf en aangeplak? As dit moeilik is om te glo dat mense regtig so praat, dan gaan dit moeilik wees om die karakter te glo. Moet egter nie verward raak met ‘n karakter se spesifieke praatstyl wat hom ‘n unieke karakter maak nie. Bv. Dink aan oom Oubaas in Sewende Laan Ook, klink al die karakters dieselfde? Of ‘hoor’ jy in jou kop hul gesprekke, en jy weet sommer daardie een klink anders. Kan jy aan die einde van die boek al weet wie is die karakter wat praat sonder dat jy die naam sien? Want, elke mens praat mos op ‘n ander manier. Party mense praat sulke kortaf sinnetjies. Ander gebruik vreeslike hoogdrawende woorde. Ander hoor jy sommer hulle is terggeeste. Jy weet wat ek bedoel? In Suid-Afrika het ons so ‘n ryk kultuurbasis. Ons kan dalk Afrikaans praat maar tog, die wat Afrikaans praat in Pretoria klink nie heeltemal dieselfde soos die in die Kaap of Namakwaland nie. Hou dit in ag.
8. Is handelinge wat in die storie gebeur het, geloofwaardig?
Kan dit regtig gebeur? Dis met enige gebeure in ‘n storie, weer eens, fantasie uitgesluit. Partymaal klink dit bietjie verregaande, maar tog, ek weet dat daar dinge in die wêreld gebeur wat miskien nie in my wêreld gebeur nie, maar dit gebeur tog.
9. Was daar enige aanhalings in die boek wat byval gevind het?
Iets wat jou bybly wat een van die karakters gesê het? Iets wat jou laat huil het of hardop laat lag het? Jy hoef dit nie in detail te sê nie, maar ‘n frase of twee kan dalk ander interesseer.
10. Was daar enige inligting wat dalk vir jou nie korrek was nie?
Ja, skrywers maak foute deur byvoorbeeld plekke of seisoene of so iets te beskryf, veral as hulle nie self by ‘n plek was nie.
11. Is die illustrasies geloofwaardig?
Hierdie verwys meer na kinderboeke en dalk moontlik jeugverhale. Maar hou dit in gedagte. Pas dit by die storie? Hou kinders daarvan?
12. Is daar dalk enige deel van die boek wat grafies is, vloekwoorde bevat of iets wat lesers dalk nie van sou hou nie?
Grafies bedoel ek byvoorbeeld, is ‘n sekstoneel in detail beskryf – of dalk te veel. Of is ‘n moordtoneel in detail beskryf? Bevat dit bv ‘n verkragtingstoneel of so iets? In Engels word dit ‘n ‘trigger warning’ genoem. Party lesers vind dit traumaties. Met liefdesverhale kry ons byvoorbeeld verskillende vlakke van hitte en dis ‘n onderwerp wat in ‘n latere blog aangeraak sal word.
13. Hoe klink die skrywer se ‘stem’ vir jou?
Het die skrywer ‘n gemaklike skryfstyl? Is dit styf of hoogdrawend? Lees jy maklik aan die skrywer se boeke? Is dit komies, professioneel of afsydig?
14. Wat is die skrywer se doel?
Dink bietjie hoekom die boek geskryf is en wat die skrywer daarmee vir die lesers wou gee. Hoekom lees jy ‘n spesifieke genre? Wat kry jy uit die storie uit? Dink aan wat jy uit ‘n boek wil kry as jy dit lees. Het die storie aan jou behoeftes voldoen? Ons almal verkies mos maar spesifieke genres en tipe boeke. Indien jy iets lees wat buite jou normale genre is, moet dit dan nie uiters negatief kritiseer net omdat jy nie van die spesifieke genre hou nie. Of moet ook nie ‘n boek negatief beoordeel net omdat jy nie van die skrywer hou of om een of ander rede wat niks met die boek te doen het nie. Bly dan maar eerder stil.
Moet jy daardie essay skryf?
Nee, glad nie! Partymaal is twee sinnetjies meer as genoeg motivering! Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde op Goodreads (in Engels):
The beginning immediately pulls you in. Easily understandable. Well written even if you haven’t read other books in series. A great story. Pulls you in with all the emotions.
This book was gripping, well written & the chemistry between the characters sizzled throughout this wonderful read.
A sweet story of delayed love that comes with a major twist - a child. And before everything is ultimately resolved there a few obstacles to overcome. You will enjoy this book
This was a real page turner! I loved the storyline and the characters. Loved the chemistry between Emma and Nicholas.
Would love to read more about them.
This was a highly entertaining read. I loved it. It kept me thoroughly occupied and not wanting to put it down.
Jy kry die idee?

Om mee af te sluit
Na alles weet ek dat om ‘n resensie te skryf is soos om eksamen af te lê. Mens is bang jy doen dit verkeerd. Maar, as jy tog by die riglyne bly soos ek hierbo genoem het, is resensies regtig nie so moeilik nie.
En, as leser, hou dit die voordeel in dat jy naderhand ook gaan weet waarna om uit te kyk. As jy nou al regtig drie boeke van ‘n skrywer gelees het en elke keer dit net ‘n 1-ster toekenning gee, is dit nie vir jou ‘n aanduiding dat jy nie van daardie skrywer se boeke hou nie? Hou dan op om jou geld te mors. Daar is baie ander boeke wat jy gaan kry waarvan jy wel gaan hou.
Daar is natuurlik ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou wanneer jy resensies op Amazon wil los:
Eerstens moet jy meer as $50 op Amazon spandeer voor jy resensies kan los.
Wees versigtig om sommer ‘n klomp resensies gelyk te plaas, veral van een skrywer se boeke. Amazon hou nie daarvan nie.
Moet nie die skrywer se naam in die resensie gebruik nie.
Ongelukkig weet ek nie hoe party mense dit regkry om Afrikaanse resensies te los nie. Ek het al probeer maar die resensies word nie aanvaar nie. Miskien as die lesers wat dit wel reg gekry het, my laat weet, sal ek bly wees en die inligting hier opdateer.
Intussen, kyk na Amazon se Community Guidelines vir meer inligting.
Waar kan jy resensies los?
Vir Afrikaanse lesers is dit maar beperk tot Amazon en Goodreads, of op ‘n skrywer se sosiale media. In Engels is daar ook BingeBooks en BookBub.

Wel, ek hoop dit het gehelp – en my ook gehelp om al daardie resensies wat ek belowe het om te skryf, klaar te skryf!
Tot volgende keer, lekker lees!


Comments